Dinah Louisa Dorothea VERMEULEN (HILLS) 1917 - 2005


          Drukblad

        My ouma, Dinah Louisa Dorothea VERMEULEN is gebore op Vrydag 16 Februarie 1917 in Oudtshoorn.
        Sy was die 8ste kind van Petrus Jacobus HILLS en Dinah Louisa Dorothea LERM. Ekself het haar
        net geken as Ouma. Ouma sou later 15 broers en suster gehad het.


        Van Ouma se lewe in Oudtshoorn is eintlik maar bitter min bekend. Dat hulle as gesin
        baie arm was en swaar gekry het, weet ek wel. Ouma het eendag aan my vertel hoe koud
        sy gekry het in Oudtshoorn op haar ouma se begrafnis. Hulle het nie geld gehad nie, en so
        het dit dan gekom dat Ouma kaalvoet in die winter op haar ouma se begrafnis was.
                                                                       

        Iewers tussen April 1925 en Julie 1927 trek die familie Transvaal toe. In die omgewing
        van Brits het Ouma se pa op 'n stukkie grond geboer. Ouma was toe omtrent 10 jaar oud gewees.
        

        

        Op 21 jarige ouderdom is Ouma getroud met Peter Jacob VERMEULEN op 10 September 1938.
        
               
        Hulle het in Johannesburg gewoon. Hoe Ouma hom ontmoet en  in
        Johannesburg beland het, weet ek nie. Verder moes Peter Jacob in die
        Engelse kerk gewees het, want hulle doop my ma op 9 Februarie 1941 in die
        Rosettenville Methodist Church.
        Hierdie huwelik sou nie meer as 14 jaar duur nie, want op 7 Mei 1952 is
        Peter Jacob oorlede. Alhoewel hy maagkanker gehad het, was hy skielik
        oorlede as gevolg van 'n hartaanval.
Ons weet maar redelik min van Ouma se lewe saam met haar man. Ouma se oudste kind is oorlede nadat hy net meer as 7 maande oud was. 50 jaar later kon Ouma nog onthou hoe haar eersgeborene gelyk het en selfs die dag van sy begrafnis kon sy onthou - Dit het blykbaar gereen, en hulle moes eers die water uit die graf kry voor hy begrawe kon word. Geld vir grafstene op Ouma se man en kind se grafte was daar nie. Ouma het vir baie jare, elke pennie wat sy gehad het, in 'n groot glasbottel gegooi. Toe dit vol was, het sy die geld uitgehaal en 'n grafsteen met die geld op haar seuntjie se graf gesit. Daarna het sy weer begin pennies bymekaarmaak in die bottel vir haar man se graf. Oupa (Oom Willie), het egter toe sy al baie geld gespaar het, die res van die geld voorgeskiet. As jy ooit in die Brixton begrafplaas kom, soek vir die graf van Jannie VERMEULEN. En as jy ook kan, soek na die grafsteen van Peter Jacob VERMEULEN in die Wespark begrafplaas. Staan by die grafstene en dink dan aan die jare van swaarkry en bymekaarmaak voor die twee stene opgesit kon word. Op 'n foto waarin Ouma saam met my ma (as baba) en haar man op verskyn lyk dit tog of dit goeie en gelukkige jare was. Dit is my gevolgtrekking wat ek graag wil glo. Die jare wat hierna sou volg sou swaar en bittere jare vir Ouma gewees het.
               
        Daar sit Ouma toe in Johannesburg. Sonder 'n man en sonder
        'n werk. Die Welsyn het wel probeer help.
        Die hulp van  die Welsyn is egter maar skaars genoeg as jy 5 kinders
        het wat moet eet. Hou nou gemaak? 
        
In Desember 1952 het Ouma Johannesburg gelos en saam met haar 5 kinders Brits toe gegaan waar hulle 'n plekkie gehuur het. Sy was nou naby haar ouers wat kon help as dit nie verder kon nie. 'n Ander rede waarom Ouma Brits toe was, was omdat haar ma gedurig siek en swak was en iemand nodig gehad het om te help. Ouma se pa het haar elke dag gaan haal van waar hulle gebly het om na haar ma te gaan kyk. Later het Ouma en haar 5 kinders by haar ouers gaan intrek om sodoende voltyds haar ma te kan versorg. Hier het Ouma en haar kinders in een kamer gebly. Tye was swaar en blykbaar was Ouma baie stief behandel gewees deur haar broers se families. Almal het blykbaar altyd daar gaan kuier en dan moes Ouma kosmaak en agter almal skoonmaak. Hier moet ek darem byvoeg dat nie almal so gemaak het nie, en van Ouma se familie het darem gereeld gehelp. Maar Ouma was in die knyp en moes maar alles sluk ter wille van haar kinders. Boonop moes Ouma haar siek ma bystaan tot haar dood toe. Op 8 November 1958 is Ouma se ma oorlede. Nou was daar niks meer wat Ouma in haar ouerhuis gehou nie. My ma, Ouma se oudste kind, was toe 17 gewees. Haar jongste was 8 gewees. Waarheen kon sy gaan? Haar neef, Willie Lerm, het haar nood raakgesien. Hy het ook glad nie gehou van die manier waarop haar familie Ouma behandel het nie. Hy het aangebied dat Ouma by hom kom bly. Hy was alleen en sy ook. Saam het hulle vir mekaar gesorg en vir mekaar die liefde gegee wat getroudes nie eens altyd kon gee nie. Vir sommige was hy Oom Willie, vir ander Oupa. Hoe dit ookal sy, hy het ons almal as sy eie familie aangeneem. Bloedkinders van sy eie het hy nooit gehad nie. Van 1958 tot 1965 het Ouma 'n huisie gehuur in Elsstraat, Swartruggens. In 1965 trek Ouma en haar neef na die huis in Fouche straat wat hy toe net klaar gebou het. Hierdie was die huis wat ek as Ouma se huis geken het. Hier het ek en my neefs en niggies klipppieskool op die trappies by die kombuisdeur gespeel. Hier het ons ook elke Kersfees gewag vir Kersvader om asseblief tog maar net ook hier 'n draai te maak. Ek onthou nog hoe ons almal krieket in die pad gespeel het, gekookte mielies geeet het, ens. So baie mense het hier by Ouma-hulle kom kuier. Tannie Tina, Oom Koos en tannie Jakkie en soveel ander. Hier het so baie dinge gebeur. 'n Hele boek kan geskryf word oor alles wat ek as kind hier beleef het, maar hierdie stuk gaan nie oor die huis nie, maar oor Ouma. Ek is gebore in 1973 in Rustenburg. My ma was baie siek gewees met my geboorte en Ouma het by my ouerhuis gaan help die eerste tyd daarna.
               
My ma moes later weer 2 keer terug hospitaal toe. Tydens hierdie tyd het ek by my Ouma in Swartruggens gebly. Ouma se liefde en toewyding wat sy vir haar kinders gehad het, het sy ook laat deursypel na haar kleinkinders toe. Sy was baie lief vir ons en ons vir haar. Vir elke kleinkind het Ouma 'n Bybel as geskenk gegee op sy 8ste verjaarsdag. Ek het nog steeds my Bybel en dit is een van my waardevolste besittings. Hierdie gebaar word ook deur my ma voortgesit op haar eie kleinkinders. In 1982 moes Ouma die leed beleef van 'n seun wat oorlede is. Vir iemand wat soveel vir haar kinders omgegee het moes dit 'n erge tyd gewees het. Boonop was Neels Ouma se jongste gewees. 'n Jaar later is ook nog 'n seun van Ouma oorlede. Oom Hendrik is in Rustenburg oorlede en begrawe. Ook sy sterfte was vir Ouma 'n slag gewees. Die jare wat nou gevolg het was goeie jare vir Ouma gewees. Intussen het hulle ook 'n kleinniggie van my ingeneem en vir haar gesorg soos hulle eie. Ons het gereeld in Swartruggens gaan kuier alhoewel ons toe reeds in Kempton Park gebly het. Soms as ons by Ouma gekom het was amper die hele familie daar, en dan het Ouma kos gekook dat dit gons. En dan was daar altyd nog genoeg oor vir seconds. Gelukkige tye duur egter ongelukkig nie vir altyd nie. In 1992 is Oom Willie (vir sommiges), of Oupa (vir ander van ons) skielik oorlede. Ouma se maat was nie skielik daar nie. Nou skielik was Ouma alleen na soveel jare. Haar familie het almal reeds ver weggetrek. Niemand was meer naby nie. Sy kon ook nie so alleen op haar eie in Swartruggens bly nie. Oom Piet het vir Ouma 'n woonstel by sy huis gebou waar sy kon gaan bly het. Hier het ons gereeld by Ouma gaan kuier. Wat ek die meeste kan onthou van toe Ouma hier gebly het, is dat sy altyd sit en brei het met 'n foto van Oom Willie oftewel Oupa voor haar op die tafeltjie. Ek dink sy het in die jare na sy dood hom baie gemis. Ek dink ook dat alhoewel haar familie naby haar was, Ouma binnekant ongelooflik alleen was. Een jaar het die Engelbrecht's Kersfees gehou in Middelburg. Al my broers en broerskinders was daar gewees saam met my ouers. Ons het my Ouma ook spesiaal vir die dag gaan haal in Pretoria. Ouma het die dag regtig geniet. Ek onthou hoe sy later nog aan my vertel het hoe dit die lekkerste was wat sy nog ooit gekuier het. En het ons daardie dag gekuier. Ek sal graag altyd hierdie dag wil onthou. Ouma het omtrent 8 jaar by Oom Piet gebly voordat sy by my ma-hulle gaan bly. Hier, by my ouers, het Ouma vir omtrent 2 jaar gebly. Ouma was nou al siek en afgeleef. Die jare het sy tol geeis. Ouma kon nie meer vir haarself omsien nie, en het nou 24 uur aandag nodig gehad. As sy vir haarself wou koffie maak sou sy byvoorbeeld die ketel aan vergeet. 'n Gebeurtenis in my ma-hulle se huis wat my sekere altyd sal byval is die dag toe my ma verjaar het. Ouma het altyd almal se verjaarsdae presies onthou en dan daardie persoon geluk gewens. Soms was dit 'n kaartjie en soms het sy gebel. Toe ons nog baie klein was, het sy vir ons boodskappe op die radio laat uitsaai as ons verjaar het. Maar hierdie jaar het Ouma my ma se verjaarsdag vergeet. Of dit net was omdat sy nie geweet het watter dag dit was nie, weet ek nie. Hoe dit ookal sy, toe dit aand word het my ma haar daaraan herinner. Almal was skielik baie hartseer en het gehuil. My ma ook. Ek dink almal in die huis was maar naby aan trane gewees. Dit was Ouma. Selfs toe sy oud en afgeleef was, was haar kinders alles. My ma en pa het egter self al begin oud word, en het begin uitkyk om 'n plek in die ouetehuis vir Ouma in Kempton Park te kry. Ouma sou naby wees en my ma kon gereeld daar gaan inloer het. So het Ouma na amper 2 jaar by my ma-hulle ouetehuis toe gegaan. Ek het Ouma nie gereeld in die ouetehuis gaan besoek nie. Vandag het ek spyt. As mens jonk en getroud is, is alles mos skielik belangriker as dit wat regtig belangrik is. Ouma het my seun Coert ontmoet en alhoewel hy toe maar net 'n babatjie was, sal ek hom altyd vertel dat my Ouma hom ontmoet het. Ek het Ouma die laaste keer gesien die dag voordat sy oorlede was. Sy was so oud en moeg. Daar het nou vir haar 'n beter plek gewag. 'n Plek waar haar afgestorwe geliefdes gewag het. Hier was daar nie meer hartseer, alleenheid of swaarkry nie. Ouma het vir die laaste keer getrek. Op 17 Junie 2005 het die engele Ouma kom haal. Hoe sal ek my Ouma eendag aan my kinders beskryf? Ek dink daar is 3 dinge wat ek hulle sal vertel. Eerstens dat Ouma nooit gekla het oor swaarkry nie. Ouma het wel gekla oor 'n been wat seer is, arm wat pla, ens. , maar oor die lewe self het sy nooit gekla nie. Oor die jare van swaarkry, hartseer en eensaamheid sou ek nooit geweet het as ander my nie vertel het nie. Ouma was verder baie lief vir haar kinders en kleinkinders. Ouma was 'n liefdevolle mens wat lief was vir haar medemens. Laastens 'n storie wat my ma my vertel het, en wat haar broer Hendrik gereeld aan ander vertel het. Oom Hendrik het blykbaar in Standerd 8 oorgegaan na 'n Tegniese skool toe. Hy het daardie jaar egter gesukkel om aan te pas, en kon die jaar nie slaag nie. Die skoolhoof het aangebied dat hy die eksamen kon oorskryf om sodoende die jaar te probeer slaag. Die voorwaarde was egter dat hy die hereksamen geld moes betaal. Ouma het nie die geld gehad nie. Sy sou egter nie skroom om enigiets te doen vir haar kinders nie, en het van haar klere verkoop om die geld bymekaar te maak. Dit moes 'n geweldige indruk op die jong Hendrik gemaak het! Hy het sy eksamen deurgekom en blykbaar daarna nooit in sy lewe weer enige eksamen of toets gedruip nie. Dit was die mens wat my Ouma was. Ons het Ouma in Swartruggens begrawe op 23 Junie 2005 langs Willie LERM soos wat haar wens was. Ouma sal gemis word deur ons almal wat haar geken het.

Terug na my Genealogie bladsy.