Konsentrasiekamp brief


Die skryfster van die brief, haar man en hul seun

Doornhoek

Klein Marico

Vriend en Vriendin

Ek wil aan u vertel hoe dit met my, Alberta Louisa Elizabeth Engelbrecht(gebore Gouws) gegaan het gedurende die Oorlog van die Boere en die Engelse van 1899.

Baie vroeg die oggend van 13 Julie 1901, terwyl ons nog ontwaak, wemel die werf van die vyand. My man, Koert Nikolaas Engelbrecht, vlug toe. Ek en my eenjarige kind moes maar agterbly. Dit was ook nie lank nie, of hier is die vyand.

Saam met die vyand was Meintjies en ander Boeremanne. Meintjies het my beveel om my goed te gaan haal sodat hulle ons kamp toe kan vat. Ek het mooi gepraat en hom gevra om ons tog maar te laat staan. Dit was egter tevergeefs.

So word ek, my suster en skoonsuster toe op een wa gelaai. Saam met die 7 kinders was ons dan 10 mense gewees op die wa. Ons moes in die aand sommer so op die kaal grond slaap.

Ons was almal baie hartseer gewees. Orals waar jy kyk sien jy net hoe die mense huil. Die Engelse was so baie soos miere. 'n Sekere Tant Martha Basson was veral baie hartseer gewees.

Kort voor Mafeking is daar uitgespan. Daar het ons geslaap. Die volgende dag is ons met die waens deur die dorp. Die heel tyd wonder ons oor ons bestemming.

Uiteindelik word daar by die kamp uitgespan. Twaalf uur die middag word ons by die sinkhuis afgelaai. Sommiges word by die huis afgelaai, terwyl ander sommer in die pad by die wa afgelaai word. Dit was op die 15de gewees.

Ons was aangese om by die huis te gaan kos haal. Daar aangekom, moes ons eers uitvind dat ons sakkies moes maak om die kos in te sit. Die 17de het my kind skielik siek geword. Die vorige dag is daar tente uitgedeel, maar ek kon nie een kry nie. Die tente is rond en lyk kompleet asof hulle op 'n paal staan.

Die 19de het ek darem ook 'n tent gekry. Die nag word my kind, Petrus Hendrik Stephanus baie siek. Ek moes opstaan en 'n lap smeer met kruienaals om op sy bors te sit. Die kruienaals het ek sommer met my skoen se hak fyngestamp.

Die volgende dag is ek toe na die dokter toe. Hy se dat dit kindertering is en dat al die kinders daaraan doodgaan. Die grafte was baie en masels het regeer.

Vroeg die oggend van die 25ste September is my broer se kind oorlede in sy bed.

Die lewe het aangegaan, maar my kind het siek gebly. Die dokter gee medisyne, maar hy bly siek. Hy sit net altyd op sy bed en vra, maar jy weet nie wat jy moet gee nie.

Die mense sterf. Daar was 'n Potgieter se vrou wat na die hospitaal toe is, nadat die verpleegster haar laat weet het dat haar kind oorlede is. By die hospitaal het sy die kind gaan toespeld. Toe sy terugkom by haar tent, is haar ander kind ook dood.

Ek was by die ressenhuis, en toe ek terugkom sien ek al die mense na haar tent toe loop. Ons het gedink dat daar iemand daar aangekom het, maar toe ons daar kom sien ons die 6 maande oue kind is dood. So het dit maar altyd met die sterftes gegaan.

Na die uitbreek van die oorlog het die Engelse ons vrouens gevang en weggeneem na die kampe toe.

My kind was altyd siek. Hy was so siek dat ek 'n kussing moes gebruik om hom regop te laat sit. Daar is nie genoeg tyd, penne of ink om aan julle te vertel hoe hy gelyk het nie.

Om dorp toe te gaan moes ons eers 'n pas kry. Aangesien die dokter se medisyne nie werk nie, is ek na Mafeking se dokter toe. Dit het gelyk of sy medisyne werk.

Ons het toe later weer van die kampdokter se medisyne vir hom gegee. Dit was egter sy dood gewees. Hy is oorlede op 19 Desember in die ouderdom van 1 jaar, 4 maande en 25 dae.

Ek het gedink dat dit beter so was. Hy was nou verlos. Sy draers was Martha de Beer en Johanna Labuschagne. Die koster was Frekkie Botha. My kind is saam met Sarie Nel se kind begrawe. So het dit maar altyd gegaan.

Grieta Havenga het by die hospitaal 'n vrou gekry wat al 8 dae oorlede was en sleg geruik het. Die swartes moes haar toe in 'n kis sit. Ons is toe na die begraafplaas toe. Die troepe het kom vra of hulle ons kon help aangesien ons vroue self die kis in die graf moes dit. Grieta het die vrou uitgeken as haar niggie. Haar mond was oop en een voortand het gekort. Daaraan is sy uitgeken.

Die dag waarop my broer se vrou begrawe is, is daar 25 lyke uit die sinkhuisie geneem. Dit is nou sonder die wat in die tente oorlede is. My broer se kind wat toe nog aan die aansterk was. het by my kom bly. Martha Christina Gouws, my oudste suster, se dogter Martha Beukes was op Lobatsi by haar tante. Die tante het toe koffie aan ons gestuur. Die mense wat vir die Engelse werk, het haar toe gevat en op Mafeking in die tronk gesit. Jy kan jouself indink hoe benoud sy moes gevoel het in daardie tronk. Gelukkig is sy vrygelaat na twee dae en teruggestuur na haar ma toe.

Uiteindelik het die vrede gekom en is ons verlos. Piet Fourie van Zeerust het te perd met 'n wit vlag die tyding vir ons gebring. Ons het toe nog 'n tydjie in die kamp gebly voor ons huis toe is. Ons was maar treurig om die Engelse se vernielingswerk te moes aanskou.

Alberta L Engelbrecht.

Van Piet.


Vriende en vriendinne
Dink aan die man wat by sy huis kom en vind dat sy bed leeg is; dat sy vrou dood is. Miskien het hy darem een kind oor om hom te troos. Dink aan die moeder wat ween by haar kind se graf en terugkeer met lee hande.

Liewe ouers, ween nie meer so baie nie. Na al die seer en hartseer wat ek beleef het gaan dit nou weer beter met my. Jy maak my skaam en bedroef. God bring troos en droog al die trane af.

Moenie u liefling in die graf soek nie. Ek leef en dartel in my vaderhuis. Liewe ouers, ween nie meer nie - u plek is reeds voorberei. Ons sal mekaar weer in die ewigheid ontmoet.


Kwaggafontein

PK Kwaggafontein

Mr. H.W. Huyser
Geagte Vriend

Alles is nog wel met my en ek hoop dat dit ook so met u gaan. Dit spyt my dat ek nie eerder my verhaal aan u kon stuur nie. Soos u self gesien het, was ek baie siek gewees. Dit gaan nou egter weer beter met my. Ek het bloedvergiftiging in my arm gekry en dit het toe na my lyf versprei. Ek was regtig baie siek gewees.

Ek hoop dat ek nie verniet so baie geskryf het nie. Ek is baie spyt dat ek nie eerder kon skryf nie. Ontvang my beste wense en stuur my groete aan Tant Sannie en Susan en aan uself.

U vriendin
AL Engelbrecht





Terug na my Genealogie blad
Terug na my Voorstoep